Boodskap van die Hoof
Liewe Ouers en kinders,
Hierdie is ‘n besondere jaar vir ons land met die wêreldbeker sokker wat hier gaan plaasvind. Mag 2010 vir jou ook ‘n besondere jaar by Laerskool Dr. Havinga wees.
Baie welkom aan julle almal by – Die skool op almal se lippe. ‘n Spesiale woord van welkom aan alle nuwe leerders en hulle ouers wat vanjaar vir die eerste keer by ons inskakel. Ons hoop dat julle eersdaags ware Blou Bloed Havies sal wees.
Ons personeel is bekwame en hardwerkende mense wat daarna strewe om net die beste vir ons skool en ons leerders te gee. Byvoorbaat dankie vir elkeen se liefde, lojaliteit en opoffering in die nuwe jaar. Mag 2010 ‘n suksesvolle jaar vir u elkeen wees.
In ons strewe na gehalte onderrig en opvoeding aan alle leerders, maak ons staat op die ondersteuning van ons ouers. Byvoorbaat dankie aan u elkeen vir u mooi gesindheid, samewerking en hulp in hierdie jaar.
Laerskool Dr. Havinga is ‘n skool van geleenthede en daarom nooi ek alle leerders uit om hulle talente op sport-, kultuur-, en akademiese gebied te gebruik en te ontwikkel. ‘n Nuwe lewensjaar vol uitdagings en geleenthede wag op julle, maak die beste van alles. Onthou: “Jy is tot alles in staat deur Hom wat jou krag gee.”
Sterkte, voorspoed en mooi wense aan alle Havies vir 2010. Mag dit vir elkeen ‘n wonderlike jaar wees waarin al jou drome bewaarheid word. Ons bid dat God se hand van seen, liefde en bewaring op elkeen sal rus.
Havie groete

L.C. Visser
Hoof |